[google-translator]
044 879 1010

Oor Dwarswegstrandoord

Kaapland Onderwys Trust(KOT) se wortels dateer terug tot 4 April 1905. Op hierdie dag is ‘n onderwysvereniging gestig waaraan die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), en later Kaapland Onderwys Trust, hul bestaan te danke het. Die hoofdoel van die vereniging was om na die belange van Nederlands in skole om te sien. Die afkorting van die vereniging was eers ZAOU, en later SAOU.

Mnr. M.J. Stücki is tydens die geleentheid as die eerste voorsitter gekies. Dis dan ook waarom een van die straatname in Dwarswegstrand na hom vernoem is, naamlik Stückistraat.

Later het elke provinsie in die vorige politieke bedeling (Kaapland, Transvaal, Natal en Oranje Vrystaat) elk sy eie onderwysersvereniging gehad. Gedurende die SAOU se bestaan in Kaapland is Dwarswegstrand ontwikkel. Met die samesmelting van die vier provinsies en herverdeling na nege provinsies in 1994, is ‘n nasionale vakbond, ook bekend as die SAOU gestig.
‘n Trust, wat as die SAOU Trust bekend gestaan het, is in 1994 gestig. Die SAOU se bates, onder andere die eiendom in Dwarswegstrand, is toe na die SAOU Trust oorgedra. Gedurende 2010 het ‘n naamsverandering plaasgevind en die SAOU Trust se naam het verander na KO Trust.

Kaapland Onderwys Trust se primêre doel is om onderwys te bevorder deur finansiële ondersteuning. Om dié doel te bereik, werk die KO Trust saam met die SAOU in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap. Fondse word deur die KO Trust beskikbaar gestel vir projekte wat deur die provinsiale bestuurder van die SAOU in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap geïdentifiseer word.
Die hoofbron van die inkomste vir die KO Trust is sy vakansieoord te Dwarswegstrand. Die oord is geleë langs die asemrowende kus tussen Glentana en Groot Brakrivier. Akkommodasie word gebied in die vorm van ‘n woonwapark met 34 staanplekke, 11 huise voor op die strand, 7 eenslaapkamer-seefrontwoonstelle en 9 tweeslaapkamer-nieseefrontwoonstelle. Die oord se huise het ‘n 3-ster-gradering en die karavaanpark ‘n 4-ster-gradering. KO Trust poog deurentyd om eenhede te vernuwe en uit te brei om meer akkommodasie te skep.
Lede van die SAOU wat van die oord se geriewe gebruik maak, kry 12%-korting op normale tariewe en SAOU-pensioenarisse ontvang 20% – hoogseisoen en Paasnaweek uitgesluit.
Die trust ontvang graag skenkings en/of erflatings ten einde die trust in staat te stel om sy doelstellings te bereik.