[google-translator]
044 879 1010

ALGEMENE BEPALINGS EN VOORWAARDES

1. Besprekings kan aanlyn, telefonies of per e-pos gedoen word.
2. Die Kaapland Onderwys Trust behou die reg voor om enige huurder wat die bepalings en voorwaardes opsetlik verbreek of wat ‘n steurnis veroorsaak, se verblyf onmiddellik te beëindig. In so ‘n geval sal die huurder vooruitbetaalde geld verbeur.
3. Huurders gebruik die oord op eie risiko en die Kaapland Onderwys Trust aanvaar geen aanspreeklikheid vir enige verlies of skade aan voertuie of toerusting nie.
4. Sodra u die besprekingsdokumentasie ontvang, het u 48 uur kans om die deposito te betaal om u bespreking te bevestig. Indien betaling nie geskied nie, sal die bespreking gekanselleer word. Die balans moet 7 dae voor aankoms vereffen word. Toegang sal geweier word indien betaling nog nie ontvang is nie.
5. Hoogseisoenbesprekings word anders hanteer en maak op 1 Desember 08:00 oop vir die volgende jaar.
Die helfte van die totale bedrag van hoogseisoenbesprekings moet voor 30 April betaal wees en die balans moet voor 31 Oktober vereffen wees.
6. Die oord se aankomstyd is 14:00 en die vertrektyd is 10:00. Gaste kan ‘n versoek aan die kantoor rig om vroeër te arriveer of later te vertrek, teen ‘n addisionele fooi, afhangende van beskikbaarheid.
7. Inligting oor tariewe, soos uiteengesit op die webwerf se tarieweskakel, asook die tariefdokument daar beskikbaar, is streng van toepassing. Die bestuur behou die reg voor om veranderinge aan tariewe aan te bring wat moontlik nie op die tarieweskakel of die tariefdokument aangedui word nie. Neem asseblief kennis dat alle tariewe jaarliks verhoog word en dat alle besprekings dienooreenkomstig aangepas sal word. Indien skoolvakansies verander, sal die datums van die laag-, middel- en hoogseisoen ook aangepas word.
8. Kortings:
8.1 SAOU-lede kry 12%-korting op normale tariewe deur die jaar. Tydens die Junie/Julie vakansie kry SAOU lede 25%-korting op normale tariewe in die huise en woonstelle (uitgesluit Helena Lochner woonstelle se 2-persoonpakket) en 50% in die woonwapark.
8.2 Persone ouer as 60 jaar, kry 20%-korting op normale tariewe, uitgesluit Paasnaweek, Hoogseisoen en Helena Lochner woonstelle se 2-persoonpakket.
8.3 Bespreking van 14 dae en meer kry 30%-korting op normale tariewe. Hoogseisoen en Helena Lochner woonstelle se 2-persoonpakket is uitgesluit.
8.4 Woonwaklubs, van 11 en meer woonwaens, kry 20%-korting.
8.5 Neem asseblief kennis dat slegs een soort korting van toepassing is op alle besprekings. Geen ekstra korting is beskikbaar op maand tariewe nie.
9. Geen linne word voorsien vir maandbesprekings of skoolgroepe nie.
10.Neem asseblief kennis dat handdoeke en braairoosters nie voorsien word nie. Enige ekstras moet self saamgebring word. Braairoosters kan by die kantoor geleen word, maar moet vooraf gereël word.
11. Babas en kinders is by die maksimum persone ingesluit. Hierdie getalle mag onder geen omstandighede oorskry word nie.
12. Alle huurders of besoekers aan huurders, moet die toegangsregister by sekuriteit voltooi, indien u nie in besit is van ‘n besoekersskyfie nie.
13. Alle verkeersreëls wat op paaie in die munisipale gebied en Wes-Kaap Provinsie van krag is, is ook in Dwarswegstrand geldig.
14. Die bymekaarmaak van brandhout uit omliggende bosse is verbode.
15. Sandduine word deur die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake as ekologies sensitief beskou en ouers/huurders moet toesien dat kinders nie op die duine speel, of toegangsroetes deur die plantegroei na die strand maak nie.
16. Die fasiliteite in die ablusieblok is gedurende hoogseisoen vir die uitsluitlike gebruik van die huurders van die woonwapark.
17. Hengelaars mag nie naby die swemarea hengel nie.
18. GEEN BESPREKING MAG NA ‘N ANDER PERSOON OORGEDRA WORD NIE.
19. GEEN TROETELDIERE WORD TOEGELAAT NIE.
20. GEEN BUSSE WORD TOEGELAAT NIE.
21.  GEEN DAGBESOEKERS WORD TOEGELAAT NIE.
22. Geen instandhoudingwerkers sal toegelaat word om van die akkommodasie-geriewe te gebruik terwyl hulle aan ‘n projek, by die oord of op ‘n ander plek, werk nie.”
23. GEEN 4-wielmotorfietse word in die strate van Dwarswegstrand toegelaat nie. Gedurende die Hoogseisoen, Maartvakansie asook Paasnaweek word geen motorfietse in die woonwapark toegelaat nie. Indien u wel ‘n motorfiets saambring moet dit buite in die parkeerarea geparkeer word.
24. Geen harde musiek of geraas word toegelaat nie.
25. Geen kinders mag na 20:00 in die strate wees nie en stilte word vanaf 22:00 vereis.
26. Geen fietse en skaatsplanke word na sononder in die strate toegelaat nie.
27. Geen opdragte/take mag aan terreinpersoneel gegee word nie. Probleme en/of foute moet by die kantoor gerapporteer word.

In die geval waar ‘n kliënt wil kanselleer, sal die volgende bepalings en voorwaardes geld:
• ‘n Kansellasiefooi van R70 sal by alle kansellasies afgetrek word.
• Indien ‘n kliënt binne 13 dae voor aankoms kanselleer, sal alle gelde betaal, verbeur word.
• Vir kansellasies tussen 14 en 29 dae voor aankoms, sal u 50% van akkommodasiegelde verbeur.
• Vir kansellasies tussen 30 en 59 dae voor aankoms, sal u 50% van die deposito verbeur.
• Vir kansellasies tussen 60 en 89 dae voor aankoms, sal u 25% van die deposito verbeur.
• Vir kansellasies langer as 90 dae voor aankoms sal slegs die R 70 kansellasiefooi verloor.

Stuur asseblief ‘n epos, indien u wil kanselleer, met die volledige bankbesonderhede waarheen die gelde terugbetaal moet word. Let wel dat uitbetalings onderhewig is aan die goedkeuring van die bestuur. In die geval van kansellasies weens sterfte (of ander aanvaarbare redes waaroor die betrokkene geen beheer het nie) word slegs ‘n administratiewe fooi van R70 gehef wanneer stawende bewys verskaf word.

 

STRANDHUISE, STRANDWOONSTELLE EN WOONSTELLE

1. Die huisvesting moet in dieselfde toestand gelaat word as wat dit gekry is.
2. ‘n Skoonmaakfooi van R500 sal gehef word, indien eenhede in ‘n swak toestand gelos word. Indien die fooi nie onmiddellik vereffen word nie, sal u nie weer van ons geriewe gebruik mag maak nie.
3. Eet- en kookgerei mag nie rondgeskuif word na ander eenhede nie.
4. Stoele mag nie op die strand gebruik word nie.
5. Elke wooneenheid het ‘n yskas met ‘n vriesgedeelte, ‘n elektriese stoof met ‘n oond of ‘n induksieplaat, eet-en kookgerei, ‘n mikrogolf, ‘n ketel, ‘n broodrooster, braaigeriewe en verekussings op die beddens.
6. Die 4-slaapkamer-seefronthuise is ten volle toegerus vir ‘n maksimum van 8 persone en beskik oor een dubbelbed, 4 enkelbeddens en 1 stapelbed.
7. Die 3-slaapkamer-seefronthuise is ten volle toegerus vir ‘n maksimum van 6 persone en beskik oor een dubbelbed, 2 enkelbeddens en 1 stapelbed.
8. Die 2-slaapkamer-seefronthuise is ten volle toegerus vir ‘n maksimum van 5 persone en beskik oor een dubbelbed, 2 enkelbeddens en 1 slaapbank in die sitkamer.
9. Die 1-slaapkamer-seefrontwoonstel is ten volle toegerus vir ‘n maksimum van 2 persone en beskik oor een dubbelbed of 2 enkelbeddens.
10. Die nie-seefrontwoonstelle is ten volle toegerus vir ‘n maksimum van 5 persone. Die eenhede beskik oor ‘n dubbelbed, 2 enkelbeddens of 1 stapelbed en ‘n enkelbed in die sitkamer.
11. Alle eenhede is toegerus met ‘n televisie met ‘n DSTV Business Stay Essential pakket.
12. Al die beddens het ‘n paslaken, een kussing met ‘n kussingsloop en ‘n duvet. Elke bed is ook van ‘n ekstra kombers voorsien. Ekstra komberse, handdoeke, ‘n strykyster en ‘n braairooster moet self voorsien word. Braairoosters kan by die kantoor geleen word, maar moet vooraf gereël word. Daar is ‘n vadoek, waslappie, sponsie en skottelgoedseep vir ‘n dag. Enige ekstras moet self voorsien word.
13. Indien u na kantoorure arriveer, sal sleutels by die sekuriteit gelaat word, indien u akkomodasiegelde ten volle vereffen is.

 

WOONWAPARK

1. Slegs grondseile van net word toegelaat.
2. Slegs een woonwa met sy tent en/of afdak, of kampeervoertuig met sy tent word per staanplek toegelaat.
3. ‘n Maksimum van 2 losstaande tente (1,5m x 1,5m) word saam met ‘n woonwa per staanplek toegelaat.
4. ‘n Maksimum van 2 voertuie en 6 persone  (babas en kinders ingesluit) – word per staanplek toegelaat.
5. Tente: Slegs 1 x 6-man- of 1 x sesman- of 2 x 2-mantente of 2 x tweemantente word toegelaat.
6. Tente moet voorsien wees van ’n grondseil van net onder die tent.
7. Indien u na kantoorure arriveer, sal alle inligting (ook die kode vir die porta potti spoelkamer) by die sekuriteitshek afgehaal kan word, indien u akkommodasiegelde ten volle vereffen is.
8. Munte vir die wasmasjiene en tuimeldroër is beskikbaar by die kantoor. Alle wasgoed moet in die droogarea, aan die seekant van ablusieblokke, gehang word. Indien u nie van die droogarea agter die ablusieblok gebruik wil maak nie, kan u wel van die staanmodel wasgoeddrade gebruik maak. Geen wasgoedlyne mag tussen bome en/of woonwaens gespan, of wasgoed aan die bome gehang word nie.
9. Geen vetterige items mag afgespoel word by die buitekrane op staanplekke nie.
10. Skottelgoed mag slegs in die kombuisarea gewas word.
11. Geen elektriese toebehore, met uitsondering van skeermesse, strykysters en haardroërs, mag in die ablusieblok gebruik word nie.
12. Sand moet by die buitestort afgespoel word voordat die storte, baddens en wasbakke in die ablusieblok gebruik word.
13. Ouers moet toesien dat kinders die geriewe in die ablusieblok op verantwoordelike wyse gebruik.
14. Net een motorvoertuig per staanplek word in die woonwaparkarea toegelaat.
15. Die klimraam in die woonwapark is alleenlik vir die gebruik van huurders in die woonwapark. Kinders, jonger as 9 jaar, moet vergesel word deur hul ouers.
16. Braailigte by staanplekke mag slegs tussen 18:00 en 22:00 gebruik word.